Ouma se bababoek brief 15 :’n Spesiale slaapliedjie

Liewe Kinders en alle mammas wat hier lees

Ek kry deesdae baie “searches” oor babaliedjies of oumaliedjies. Wel, soos julle eintlik al weet, HET ons so ‘n liedjie, ‘n baie spesiale liedjie, want dit ons familie se eie liedjie!

Dit het so gekom: Soos julle weet, is ons  familie mos super vrugbaar. So het my ouma en oupa niks minder as 12 kinders gehad nie! Die 11 wat grootgeword het, het ook almal hulle eie kinders gekry en nou is hulle kinders besig om weer kindertjies te kry. My eerste kleinkinders is sommer ‘n tweeling!

Maar nouja, met 12 kinders in die huis, was daar seker vir ‘n baie lang ruk altyd babatjies in die huis. Met julle ouma tweede oudste en Oom Henry net ‘n entjie jonger as sy, veronderstel ek dat hulle baie keer babatjies aan die slaap moes sing. En toe maak oom Henry hierdie liedjie.

Dis ‘n eenvoudige liedjie, gemaak deur ‘n laerskoolseuntjie,( of wie weet hou oud hy was- was hy al ooit in die skool?) - maar so treffend en lekker om te sing -wat is nou mooier en meer eie aan ons omgewing as ‘n klein babaskilpadjie?- maar bowenal: babatjies hou daarvan! Hulle raak sommer tjoef-tjaf salig aan die slaap met hierdie liedjie. Nou, ek weet nie of babatjies weet wat klein skilpadjies is nie, maar ek verseker julle die liedjie werk!

Dis dan seker ook hoekom die liedjie in die geheue van die familie bly voortleef het, en al die Falck kinders ( die 11 wat grootgeword het), dit weer vir hulle kinders gesing het. En hulle kinders het dit weer vir HULLE kinders gesing, en nou sing julle dit weer vir julle kinders ( en hierdie ouma vir haar tweeling kleinkinders!)

Ek self het eers die liedjie vir die eerste keer gehoor toe julle ouma vir jou aan die slaap gesus het, Leanie.Nee, dis nie waar nie, ek is mos self met hom aan die slaap gesus, maar ek kan dit mos nou nie onthou nie. ”Waar kom Ma nou aan daardie liedjie?” het ek verbaas gevra, want ek het gedog ek ken omtrent al die wiegeliedjies in Afrikaans. Toe vertel sy my die storie.

Die liedjie het dadelik my herinner aan ‘n dag, jare gelede, toe ek ‘n klein dogtertjie was. Ons het daar naby Robertson in die berg gaan uintjies ( ek is nie seker van die woord nie- dis sulke lang wit wortels wat onder die grond groei en baie lekker), soek, toe ons  ’n klein skilpadjie onder ‘n bossie sien sit.  Dit was die mooiste dingetjie en ek wou hom so graag hê. My nefie, Harry, het die skilpadjie vir my bo in sy hempsakkie ingesit. Soos die oggend aangegaan het, het hulle my vertel van die arme skilpadjie wat nou ongelukkig gaan wees, ens, en op die ou einde het ons hom weer gaan terugsit – onder ‘n bossie.

Sedertdien het ek gehoor hoe tannie Lydia dit sing en by navraag ken al die Falcke toe die liedjie.

Nou het ek die liedjie neergeskryf. Sover ek weet is die die heel eerte keer wat die liedjie op papier geskryf word – en dit het my die ganse nag geneem, omdat ek aanmekaar die een fout na die ander gemaak het, en omdat hierdie rekenaar vannaand sy eie willetjie het, nes ‘n stout kind. Maar hier is hy nou, min of meer net so, en as iemand wat hier lees dit vir sy babatjie wil sing, is hy welkom- saggies oor en oor, en vervang soms die woord mooi met kleine.

Nouja, dis middernag en ook slaaptyd hier!

Lekker slapies.

Mamma

KOPIEREGWAARSKUWING: Niemand mag hierdie musiek publiseer in ‘n boek, fotokopieer en versprei of kommersieel sing of opnames van maak sonder die skriftelike toestemming van Mnr Henry Falck of sy nageslag nie. Indien u dit ooit wil doen, kontak my deur middel van hierdie blog. Op las.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 8 Kommentaar

blogverslawing?

Wag ek loer net gou

het nie nou tyd nie

anders werk dag nie uit nie……..

‘n halfuur later -

ek lees nog sterk!

Herriemerrie,

Maankind,

Toortsie,

Olga,

Son

Ook ander waar ek baie uitkom.

TV het krag verloor

selfs Boek kom flouerig voor

dis nou Blogland vir my!

Wag- ek’t baie werk!

Kom nou, Krap! Wees sterk!

| 7 Kommentaar

‘n dag in die lewe van ‘n seegogga

Seegoggas se dae verander saam met die getye , die wind , die weer, en die ander gediertes wat dalk hulle pad kruis.

Daar is dus min patroon in die lewe van ‘n seegogga, behalwe dat hulle lief is vir knibbel – aan enigiets wat enigsinds lyk of dit geëet kan word.  Slaaptye is ook anders as die van  ander seegediertes, Soms is dit in die middel van die dag, soms in die middel van die nag, afhangende van omstandighede.

Om te illustreer, word net een dag, vandag, in die lewe van ‘n seegogga beskryf:

Ons noem maar hierdie seegogga Krappie, hoewel sy soms meer gogga as krap is.

Vanoggend het Krappie swaar wakker geword omdat sy gisteraand sommer baie laat gaan slaap het, en omdat Wagter, haar troetelvis, in die middel van die nag haar kom wakker maak het. Hy wou graag uitgaan om te kyk of alles nog veilig is en of daar nie vreemde seekatte is om te jag nie.

Krappie lê nog so in haar onder haar seegraskombersie, toe sy skielik besef: Sy moet op! Daar’s baie werk om te doen! Sy moet see toe!

Sy bid vanoggend vinniger as gewoonlik haar oggendgebedjie, spring op en skarrel gou rond in haar huisie, gee haar troetel seekatjies kos, haal haar blou seevoëltjie uit sy hok sodat hy kan rondvlieg, kry skoon beddegoed wat sy in krapmandjies pak en maak vir haar en haar man, mnr Krap, warm bruin oggendsap wat darem bietjie krag vir die dag gee. Mnr Krap benodig iets by sy werkklip, en omdat hulle net een seeperd het, moet hulle gou eers daar aangaan. Toe moet sy eers weer by die blaarbank aangaan. Ai, daar is ‘n hele spul krappe , visse en ander goggas en sy moet lank wag voor hulle haar kan help.

Nou is Krappie regtig laat. Sy jaag op haar seeperdjie strand toe. Dit neem so ‘n halfuur om daar te kom. Daar is 3 seehuisies wat moet skoon sodat ander goggas daar kan kom vakansie hou, maar vandag is daar net tyd om een skoon te maak,waarin 2 vakansiegoggas gaan kom bly,  omdat sy vroeg weer terug moet wees vir die seeskool.

Die een huisie waarin die vakansiegoggas kom, is net mooi amper reg, toe haar seeskulp suis in haar ore. Dis twee verliefde goggas wat tog asseblief vannaand in een van haar huisies wil bly, want dis mos Valentynsdag. Krappie moet nou ekstra vinnig woel, want nou het sy twee huisies wat moet skoon voor 1 nm en sy het eintlik net beplan om die vuil beddegoed te kom haal.

Sy woel en wikkel en werk. Die seeskulp suis weer. Dis mnr Krap wat haar herinner dat sy nie moet laat wees nie. As Krappie so seehuisies toe gaan, gaan kuiers sy gewoonlik na die tyd eers by Parrie, die pylstert, voor sy teruggaan, of so nie, gaan loer sy na die groot vuurtoring, Toortsie se liggie, maar vandag is daar nie tyd nie. Krappie spring op haar seeperd en nadat sy hom lekker kossies gegee het, laat waai hulle teen dubbele spoed terug na haar blyplek. Daar gryp sy net haar boeke en laat waai skool toe.

Dis Dinsdagmiddag en deesdae leer sy ander seekrappies van die brein , die sintuie , neurone en allerhande snaakse goed. Sy moet net so hard soos hulle leer, want sy het al so ‘n bietjie vergeet net soos daardie heksie wat ons mos ken. Van 2-3.30nm is Krappie net besig met die Biologie. Toe jaag sy huis toe, want die raam-krewel wat vir haar werk, is net tot 4nm daar en hulle moet gou ‘n raamprobleempie oplos. Krappie het mos haar eie klein besigheidjie by die huis. Sy sit prentjies van die ander goggas se kinders in mooi raampies.

By die huis gekom, sê Krappie se man dat hy darem nou baie honger is, wat van ‘n lekker seeburger met seeslaai by? Krappie spring weer op haar seeperdjie en jaag na die haaie se winkel toe. Daar kry sy seeblare, en ronde sponsies waarmee sy burgers gaan maak. Sy het mos nog bietjie seekossies om binne-in te sit.

Krappie gooi die eerste bondel wasgoed in die maalgat en toe maak sy seeburgers. Maar ai, sy mors! Haar blou voëltjie het ook  intussen ‘n paar potjies seespeserye omgestamp. Hy was mos heeldag alleen in haar kombuisie en het lekker gespeel met al die bakkies en potjies.

Na ete raak Krappie baie lui, maar tyd vir stilsit is daar nie vandag nie. Die eerste bondel wasgoed moet oor die klippe gegooi word dat dit kan droog, die blou voëltjie moet sy aandkossie kry en in sy hokkie gesit word, die 2 troetel seekatte soek ook alweer kos en Wagter, die troetelvis, wil ook graag iets lekkers eet. Die tweede bondel wasgoed kom in die maalgat en nou gaan knip Krappie gou 60 hartjies uit rooi seegras. Dis mos vandag Valentynsdag en by mnr Krap se werk is daar ‘n spesiale Valentynsdansie. Een van haar kinderkrappies wil graag uitvind hoe ‘n mens Valentysnkossies maak, en Krappie druk haar seeskulp so met een knyper vas terwyl hulle praat.

Krappie gaan help mnr Krap by die Valentynsdans , maar toe dit stil word, neem hy haar huis toe sodat sy verder kan klaarkry met alles wat sy nog moet doen. Die tweede bondel word opgehang, die derde bondel word in die maalgat gegooi, die kombuisie, wat ‘n groot gemors is, word skoongemaak; skottelgoed, die eetskulpe, die koraalkassies, die perlemoenvloer, alles word skoongemaak sodat daar darem bietjie orde kan wees.

Die derde bondel is intussen klaar gewas, maar Krappie is nou lui. Sy sal hom uithaal sodat die vierde bondel in die maalgat kan kom, maar sy gaan nie nou in die donker die wasgoed oor die klip gooi nie. Dit kan maar kan maar lê tot moreoggend, want daar is iets wat Krappie nou baie graag wil doen voordat sy in haar warmwaterpoeletjie gaan ontspan en onder haar seegraskombersie gaan slaap-  en dis eintlik al die volgende dag!

Sy gaan na haar seekommunikasiekanaal en met haar voorste knypertjies  tik sy vinnig op die swart perriwinkle skulpies.

Daar tik sy:” ‘n Dag in die lewe van ‘n seegogga”.

Posted in feeverhale en ander stories, Los opdrifsels, Seestories | 6 Kommentaar

sometimes

Sometimes on a warm summer’s night when the moon is full and the stars are bright,
I remember… and  I wonder:
on a cold winter’s night when the clouds are dense and snow falls white -
do you sometimes remember?
A time of sunshine, a time of rain, a time of youth, a time of pain
a time of laughter, sadness, fondness, madness-                                                                          Do you remember?                                                                                                                                A time of care, extraordinary and rare- it was just always there.-
like two peas in a pod, opposites, de lot!

Sometimes, on a warm summer’s night  when the moon is full and the stars are bright,      I remember.

Posted in gedigte en rympies (seestrome van verlange) | 2 Kommentaar

Aandag alle gomvervaardigers, alle produkeienaars en vervaardigers en alle winkeliers wat nog pryse op produkte plak (die taal van frustrasie?)

Weet julle nou nog nie dat daardie konfyt, grondboontjiebotter, mayonaise en whatever se botteltjie weer gebruik gaan word nie? Het julle nog nooit gehoor van’recycling’ nie? Het julle nog nooit in ‘n tuisbedryf iets in so ‘n herwinne botteltjie gekoop nie? Of nog beter – het julle nog nooit in julle ma se kombuis  gaan kyk wat sy met haar slaphakskeentjies, ingelegde olywe en kerrieboontjies doen nie?

Die botteltjies word weer gebruik! Vir groenvyekonfyt, vir knope, ( of spelde), vir kinders se flitskaartjies, albasters, tuisgemaakte badsout, penne en potlode, vishoeke,skroefies en spykers of whatever, ja, selfs vir lourierblare, maar julle kan verseker wees: iemand gaan dit gebruik. En as iemand dit wil gebruik, wil hulle die ETIKET AF hê!!!

Wie wil nou sy pronk appelkooskonfyt in ‘n botteltjie sit waarop Mayonaise geskryf staan? En wie wil sy tuisgemaakte chutney in ‘n botteltjie sit met grondboontjiebotter op geskryf?  Of sy kersies in ‘n fishpaste botteltjie?

Kom by, word wakker, wees gebruikersvriendelik en have a heart! Gebruik ( en vervaardig) gom etikette wat weer maklik kan aftrek! Daar bestaan sulke etikette op die mark. Gaan kyk maar hoe lekker trek  die mooi Poncho bottel se etikette af. Geen lê in warm water nie, geen spiritus, terpentyn of harde geskrop en gekrap nie. Hy trek sommer maklik en skoon af, net so droog. Die vervaardigers het geweet almal gaan hulle mooi bottels weer wil gebruik.

So julle ander - gaan drink ‘n Poncho en word wys!!! (no pun intended)

Namens alle gefrustreerde huisvroue en recyclers wat probeer om julle mooi houers ( waarvoor ons duur betaal het) weer vir iets nuttigs te gebruik, en ook namens myself wat ‘n ganse aand hier staan en skrop en nog bittermin uitgerig het.

Posted in die tale wat ons praat, Los opdrifsels | 9 Kommentaar

soveel dae, soveel dinge: the spices of life

Ek weet ek moenie hier sit en rondlees nie, ek moet werk! Blogtyd is eintlik verby vir my, ek wat soveel dinge het om te doen. Maar ai, dis half twaalf. (give me a break!)

Ons restourant is verkoop( jippieee!), en bokse en bokse oortollige souse, speserye en whatnot, staan skielik my huis vol ( Ai tog , gee my krag!). Dis nou behalwe die hele boks goed wat net mooi by die voordeur besluit het om te breek en te val.

Skielik lê daar op die voortrappies ‘n hoop heel peperkorrels, ‘n halfsakkie meel, ‘n hele houer( lees 1 liter!) se pietersielie, sout, vlapoeier,  oreganum, meat tenderiser, borrie, kerrie, braaivleisspeserye, bruinsuiker en watnog. Ek dog eers ek kan iets red, maar besef toe dat dit nie sal werk nie.  Ek tuinslang die goed af, maar dit is soveel dat dit ‘n hele “modderdam” by die voorhekkie maak, voor dit uiteindelik af straat toe. Maar nou nog, 3 dae later, kry jy die lieflikste geur as jy die tuinpaadjie opstap en as jy mooi kyk, sien jy peperkorreltjies aan die kant van die paadjie lê.

Alles is egter nie verlore nie! Behalwe die souse wat ek nog nie gebêre het nie ( waar moet ek plek vind?), is hier in my kas: 2kg gemaalde swart peper, 2 kg broodkrummels, 5 liter rys,  en 12 ( TWAALF sê ek jou!) literhouers vol….lourierblare! Dan is hier verskillende soorte braaispeserye in literhouers te kus en te keur, souse wat skrik vir niks , 5 liter olyfolie , ten minte 5 liter slaaisous, tartaresous, mayonaise, asyn ens ens ens. Ek het nou alles wat ek nodig het om kos mee te maak  –  behalwe die kos self.

Ek moet lag, ek wat so min  speserye gebruik, in ‘n gesin wat nie groot ryseters is nie, en  wat feitlik nooit slaaisous gebruik nie. Maar ek het ‘n plan! (If life throws you lemons, make lemonade!)

Soos die verskeidenheid geure en kleure van al hierdie kruie en speserye,  so is die lewe ook – vol geure en kleure! Soms val iets, en raak weg, soms het mens oorvloed, al is dit dalk nie dit waarvan jy wou gehad het nie. Hoofsaak is: Die lewe is ‘n avontuur. Beskou hom so en jy sal nooit verveeld wees nie!

| 4 Kommentaar

Vrydagaand by Pelicans en Parrie

Ek sit nou hier op die hawe met my glas wyn en wag vir my perlemoen.

Die lig blink op die water en die bootjies is kleurvol. Die vuur brand gesellig en die geur van gebraaide vis en see is soet in die neusvleuels. Die see se sagte geruis en die gesellige geroesemoes van stemme van ander wat ook die aandlug  hier by die see geniet, maak die aand net nog meer spesiaal.

Dis net jy wat ontbreek!

Groetnis aan jou wat hier lees,

hier vanuit die Pelikaan, hier vanaf my gunsteling sitplek.

My perlemoen is op pad…..

Posted in Die Overberg: my wereld., Seestories | 6 Kommentaar