Liewe Kinders en alle mammas wat hier lees
Ek kry deesdae baie “searches” oor babaliedjies of oumaliedjies. Wel, soos julle eintlik al weet, HET ons so ‘n liedjie, ‘n baie spesiale liedjie, want dit ons familie se eie liedjie!
Dit het so gekom: Soos julle weet, is ons familie mos super vrugbaar. So het my ouma en oupa niks minder as 12 kinders gehad nie! Die 11 wat grootgeword het, het ook almal hulle eie kinders gekry en nou is hulle kinders besig om weer kindertjies te kry. My eerste kleinkinders is sommer ‘n tweeling!
Maar nouja, met 12 kinders in die huis, was daar seker vir ‘n baie lang ruk altyd babatjies in die huis. Met julle ouma tweede oudste en Oom Henry net ‘n entjie jonger as sy, veronderstel ek dat hulle baie keer babatjies aan die slaap moes sing. En toe maak oom Henry hierdie liedjie.
Dis ‘n eenvoudige liedjie, gemaak deur ‘n laerskoolseuntjie,( of wie weet hou oud hy was- was hy al ooit in die skool?) - maar so treffend en lekker om te sing -wat is nou mooier en meer eie aan ons omgewing as ‘n klein babaskilpadjie?- maar bowenal: babatjies hou daarvan! Hulle raak sommer tjoef-tjaf salig aan die slaap met hierdie liedjie. Nou, ek weet nie of babatjies weet wat klein skilpadjies is nie, maar ek verseker julle die liedjie werk!
Dis dan seker ook hoekom die liedjie in die geheue van die familie bly voortleef het, en al die Falck kinders ( die 11 wat grootgeword het), dit weer vir hulle kinders gesing het. En hulle kinders het dit weer vir HULLE kinders gesing, en nou sing julle dit weer vir julle kinders ( en hierdie ouma vir haar tweeling kleinkinders!)
Ek self het eers die liedjie vir die eerste keer gehoor toe julle ouma vir jou aan die slaap gesus het, Leanie.Nee, dis nie waar nie, ek is mos self met hom aan die slaap gesus, maar ek kan dit mos nou nie onthou nie. ”Waar kom Ma nou aan daardie liedjie?” het ek verbaas gevra, want ek het gedog ek ken omtrent al die wiegeliedjies in Afrikaans. Toe vertel sy my die storie.
Die liedjie het dadelik my herinner aan ‘n dag, jare gelede, toe ek ‘n klein dogtertjie was. Ons het daar naby Robertson in die berg gaan uintjies ( ek is nie seker van die woord nie- dis sulke lang wit wortels wat onder die grond groei en baie lekker), soek, toe ons ’n klein skilpadjie onder ‘n bossie sien sit. Dit was die mooiste dingetjie en ek wou hom so graag hê. My nefie, Harry, het die skilpadjie vir my bo in sy hempsakkie ingesit. Soos die oggend aangegaan het, het hulle my vertel van die arme skilpadjie wat nou ongelukkig gaan wees, ens, en op die ou einde het ons hom weer gaan terugsit – onder ‘n bossie.
Sedertdien het ek gehoor hoe tannie Lydia dit sing en by navraag ken al die Falcke toe die liedjie.
Nou het ek die liedjie neergeskryf. Sover ek weet is die die heel eerte keer wat die liedjie op papier geskryf word – en dit het my die ganse nag geneem, omdat ek aanmekaar die een fout na die ander gemaak het, en omdat hierdie rekenaar vannaand sy eie willetjie het, nes ‘n stout kind. Maar hier is hy nou, min of meer net so, en as iemand wat hier lees dit vir sy babatjie wil sing, is hy welkom- saggies oor en oor, en vervang soms die woord mooi met kleine.
Nouja, dis middernag en ook slaaptyd hier!
Lekker slapies.
Mamma
KOPIEREGWAARSKUWING: Niemand mag hierdie musiek publiseer in ‘n boek, fotokopieer en versprei of kommersieel sing of opnames van maak sonder die skriftelike toestemming van Mnr Henry Falck of sy nageslag nie. Indien u dit ooit wil doen, kontak my deur middel van hierdie blog. Op las.


