Die see hier by Kaap Agulhas, hier by die Suidpunt van Afrika, is seker een van die gevaarlikste stukkies see in Suid Afrika. Dit word nie verniet ” die begraafplaas van die skepe” genoem nie. En waar daar skeepswrakke is, is daar skatte – en ook duikers – op soek na ‘n fortuin?
Hier in ons geweste was daar vroeer jare ‘n baie beroemde diepseeduiker en sy span. Ek sal maar nie sy naam noem nie, ek weet nie wat van hom geword het en of hy nog leef nie, kom ons noem hom X.
X was ‘n kenner en het hierdie seebodem soos die palm van sy hand geken. Hy het gereeld na Holland , Portugal en Spanje gegaan en dan in die argiewe die ou skeepsjoernale, en roosters bestudeer. Sodoende kon hy uitvind waar watter skepe vergaan het, watter vrag hulle gedra het ens. Dan het X gekom, en die skip hier onder die water kom soek tot hy dit gekry het. Dis geen geringe taak nie, want meestal is so ‘n ou seilskippie van tot 300 jaar gelede geheel en al onder die sand bedek. Maar X was ‘n ekspert.
So het hulle uitgevind van ‘n skip wat ‘n baie groot vrag tin op het. X het gesoek, en gevind – alles in die grootste geheimhouding. Nou moes die tin uitgehaal word, ook in die grootste geheimhouding.
X het op daardie stadium net een ander helper gehad, ‘n dinamietdeskundige, en as albei diep onder die water duik, het hulle iemand nodig gehad om die bootjie op die regte plek te hou, hulle tyd te monitor en te laat weet wanneer hulle moet opkom ens, altans dis hoe ek dit vertaan het. Wie anders as ‘n afgetrede ou omie,’n vriend van hulle, self ‘n besondere karakter en ‘n man wat die gevaarlike see net so goed soos hulle ken? Daar was twee sulke omies op Struisbaai en L’Agulhas- groot visvangvriende en albei groot individue. Kom ons noem hulle Oom F en Oom D. Hierdie omies is ongelukkig albei lankal oorlede, maar die mense daar praat nou nog oor hulle- unieke karakters soos die Overbergers nou maar is.
So word die wrak oopgemaak, en tin word uitgehaal - ’n skat van tin wat al honderde jare onder se see le! En tin is duur!
So ‘n tinstaaf is nie ‘n ligte ding nie. Dis ongeveer 100cm x 30cm x 30cm, of dalk groter, ek skat maar so uit geheue van lank gelede. Weerskante op die lang kante, was daar so ‘n langwerpige lip of oor waaraan ‘n mens die staaf kon optel- met moeite, want dit was swaar.
’n Hele paar dae lank word stawe uitgehaal. Die een spesifieke dag is dit Omie F se beurt op die see. Hy kyk die spulletjie so en besluit dat hy ook mos hard werk hier op die bootjie. Tin is mos die ideale ding om spinners van te maak. Hy wil ook so ‘n staaf he! Hy ken ook vir X en vriend baie goed. Hulle is mense wat hard werk en hard speel. Na so ‘n harde duiksessie gaan hulle hard kuier en sal nie sommer agterkom as daar een ou stafie weg is nie!
Toe die bootjie weer die vlak water van die hawe invaar en almal aflaai en dra, gooi oom F ongemerk ‘n staaf oor die rand van die boot. Die gaan hy toe later stilletjies uit die water haal en gaan steek dit weg.
X en vriend kom natuurlik agter dat daar ‘n staaf kort- hulle weet mos hoeveel hulle uitgehaal het. Hulle ken ook Oom F. Die ou bogger het natuurlik vir hom ook ‘n staaf gevat! Maar hulle kan mos niks bewys nie, en bowendien is die hele operasie mos hoogs onwettig en hoogs geheim, dus bly hulle doodstil en laat niemand agterkom dat hulle weet nie.
Oom F was hoogs in sy skik met sy tin, nie net oor die spinners nie , maar oor die hele seerowery avontuur en X en sy vriend het ook nie te veel omgegee nie- hulle gaan mos nog baie kry en was in elk geval reeds skatryk van al die wrakke. There is honour among thieves.
Maar hierdie storie het nog ‘n paar draaie. ( word vervolg)
Klink of hierdie ‘n lekker storie kan raak!
Wag! Waar is Struisbaai? Ek wil ook gaan skattesoek. Nou dadelik.
Ha! Kom maar.
Xena jy kan maar kom, solank jy vir ons weer vertel daarvan.
Seerower, agge ek bedoel seegogga, lyk my hier kom sommer nog ‘n LAAAAANNNNNGG vervolgverhaal met interessante kinkels, kabels en stawe…. en baie hoofstukke… KANNIE WAG NIE. en aangesien oompies A en B al lankal dood is, kan hulle mos maar name kry, of hoe man???
Hulle familie is nog hier rond en sal dalk nie daarvan hou nie- ek speel maar veilig. Nee, nog net 2 episodes.
Een van my vriendinne het in Struisbaai getrou en al haar kiekies was by die ligtoring geneem… Fantasties mooi!
Nee!
Ek het haar eers leer ken ‘n maand (dalk twee) na hul troue. Hoe ver is Struisbaai van Gansbaai af? Ek is in Desember in daardie omgewing.
Was jy ook hier? Hierdie foto is op ‘n mistige dag geneem.
Net mooi ‘n bietjie minder as ‘n uur se ry deur Elim, ‘n Morawiese sendingstasie , as jy wil grondpad ry, asook deur Stanford en Van Brakelstoor as jy wil teerpad ry. Jy kan nie hier kom vakansie hou en nie na die Suidpunt van ons magtige kontinent toe kom nie. Verder is Waenhuiskrans weer net 15-20 minute van Struisbaai en Agulhas af en daar is ‘n grot en die mooi vissershuisies. Jy moet dat ek en Toortsie vir jou ‘n toeristegids uitwerk! Senou ek, jy en Toortsie kan erens gaan tee drink? Sal dit nie lekker wees nie?
DIT klink na ‘n plan!!!
Ek is 29 Desember tot 3 Januarie klink dit vir my in daardie omgewing!
Dis ‘n pragtige foto! Ek het onlangs iets oor Jongensfontein gesien op Pasella en het opsluit besluit dis my aftreeplek! Was julle al daar?
Skulpie, ek wag in spanning vir die volgende aflewering…
Jongensfontein is pragtig! Jy sal sekerlik lekker bly daar.