paasnaweek en stilte

Dis Sondagaand. Dit reën, Die kinders is al weg, die vriende is ook, my man slaap en ek sit hier in die stil skemer voor die rekenaar en luister na die ongelooflike klank van die reën wat soms sag, soms harder die aarde deurdrenk. Soos strome van seën. Net op die regte tyd, want is dit nie saaityd na die paasnaweek nie?

Daar is iets aan hierdie reën. Dis asof dit die wêreld skoonwas, die somer finaal wegwas, en ook my gedagtes skoonwas, soos Jesus se bloed ons skoongewas het. Juis vandag het ons ds Stan so mooi gepreek oor die wonderlike dag waarop ons vrygekoop is.

En terwyl ek nog so sit en luister na die skoon water wat so afstroom, hoor ek meteens Santa Hofmeyer op viool op die radio in die kombuis. Ave Maria. Die musiek is asof dit deel is van die reën. Dit stroom die vertrek binne en vloei om my heen, hier waar ek sit, en ek wens julle kon dit ook so hoor. Hier is dit dan, nie deur Santa Hofmeyer nie,want ek kon haar nie kry nie,  maar deur Joshua Bell.

Ek hoop dit sal vir julle ook rustig en hemels klink soos vir my. Geniet die res van die Paassondag, en die Paasnaweek, en as julle erens heen moet ry, mag God met julle wees.

Posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels | 2 Kommentaar

Aandag alle motorvervaardigers en ander uitvinders !!!!

Reblogged from Seegogga se Bloggie:

Hiedie was een van my eerste skrywes, lank gelede, en nog een van my idees. Noudat ek ‘n Aandag kategorie begin het, het ek besluit om dit te reblog. Miskien eendag, word iemand anders ryk uit my idees uit! Mmm,miskien moet ek die kategorienaam verander na: idees hoe om ‘n miljoener te word……

“Ek het al lankal gewonder, en dit ook een aand breedvoerig met my man bespreek, hoekom hulle dan nie motorkarre maak soos die rubberducks nie.

Read more… 243 more words

| 4 Kommentaar

Aandag alle uitvinders, inventors, en planmakers en vervaardigers

Nadat my (gewese) huishulp besluit het dis lekkerder om te kuier as om vir my te werk, en met 3 strandplekke en ons eie huis, is ek hierdie jaar skielik toegegooi: onder die werk, die wasgoed en die STOF!

Vir die wasgoed is daar ‘n wasmasjien- jy gooi net is en haal later weer uit, silwerskoon. Om droog te maak, is daar ‘n tuimeldroer- jy gooi net in en haal later uit, mooi droog( welliswaar effens gekreukel, maar darem- en daarvoor is mos daardie presse deesdae).

Skottelgoed  pak jy vinnig in die skottelgoedwasser en haal later net uit, silwerskoon.

Selfs tuinwerk is deesdae maklik. Jy draai nie eers meer die kraan oop nie! Gerekenariseerde sproeiertjies spuit hom mooi nat in die regte hoeveelhede sonder dat jy ‘n vinger hoef te verroer.

Maar wat van STOF???????

Jaaaa, ek weet mens kry ‘n stofsuier, maar jy moet mos die ellendige ding rondtrek en stoot, hy haak aan die tafelpote vas, sy draad koek, of trek styf om die bank, en jy moet alewig ‘n extension aanklik omdat sy draad nooit lank genoeg is nie. Kort-kort moet jy die ding leegmaak, anders wil hy nie meer suig nie, maar die ergste van alles is daardie taai wolletjies wat aan die mat vassit, en wat hy verseg om op te tel, tot jy later maar hand bysit(letterlik). Ek weet ek moet dankbaar wees en ek mag nie haat nie, maar  gee my maar liewer ‘n gewone ou besem. Ek haat ‘n stofsuier!

En terwyl ek nou so vee en was en skrop, wonder ek by myselwers hoekom iemand nog nie ‘n beter patent kon uitvind as ‘n stofsuier nie. Met die dat alles op die aarde omtrent uit stof bestaan en tot stof sal terugkeer, en met die dat materie nooit ooit in der ewigheid vergaan nie,  is dit g’n wonder dat daar so baie stof is nie. In die Groot Gedagte van Gideon Joubert, vertel hy dat die kleinste deeltjies op die aarde(wie weet, dalk ‘n stukkie van ou Adam of Eva?) so klein is dat  hulle sommer so deur jou beweeg, sonder om eers aan jou molekules of selle te raak, soos wat ‘n spoetnik so tussen die planete deur beweeg sonder om aan hulle te raak .  So klein is stof soms, en dink net hoe baie !

Aan stof is hier op aarde dus nie ‘n tekort nie. Die moeilikheid is: dit mag nie in die huis wees nie! En wetenskaplik gekyk na die saak, is dit ‘n saak van onmoontlikheid. Kom ons sê liewer ‘n mens mag dit net nie sien nie( wat die oog nie sien nie, treur die hart mos nie oor nie). Nee alles moet blink en glad vertoon. So is die mode nog al die jare.

Maar ek het ‘n idee, as ‘n uitvinder dit nou net wil verwerk en prakties moontlik maak. Die plek waar die meeste stof en vuilgoed kom, is mos die vloere( agv die swaartekrag, nie dat stof nou juis swaar is nie.):

“Self cleaning floors!”

Waarom maak een of ander uitvinder nie vloere wat self skoonmaak nie? Ek sien vloere met klomp miniatuur klein spreiertjies in wat net bokant vloervlak ‘n klein missie sprei, met die kliek van ‘n knoppie. In die vloeistof kan jy ‘n blinkmaak ding ingooi om jou vloer mooi te maak. Dan is daar honderde klein suiertjies, wat al die vloeistof weer opsuig en blasertjies om die effense nattigheid vinnig droog te blaas en die verstopte suiggaatjies weer oop te blaas. Al die vloeistof word onder die vloer weggevoer met pype en buite in sakke vrygelaat. Soms is daar net ‘n droe suigaksie ook- taamlik sterk suig om van stod ontslae te raak en wat van fyn ronddraaiende borseltjies wat oppop en die floer liggies vee om die stof los van die vloer te maak?Die vloere het honderde baie klein gaatjies in, maar  jy sal dit nie eers opmerk nie, veral nie al jy dit laat lyk soos die nuwe plankvloere wat nou so in die mode is nie.

Elke aand slaaptyd , druk huisvrou die knoppie, en die vloerwas aksie begin, en hou vanself na ‘n seker tyd op, of jy kan dit ook rekenariseer sodat dit  gereeld plaasvind op tye wat jou pas. Werkendes sal dit dalk in die oggend wil laat gebeur as hulle op kantoor is, mammas snags as die kinders slaap.

Aandag alle uitvinders: So ‘n uitvindsel kan dalk net ‘n Nobelprys losslaan - dink net hoeveel werk, frustrasie en ellende gaan hy die mensdom( en vir my) spaar!

 

Posted in Aandag! Verbeter die lewe en word 'n mijoener! | 4 Kommentaar

renoster, o renoster

Lank gelede , toe renosters nog redelik vry en gelukkig kon lewe, het my man hierdie prent van ‘n renoster gemaak. Dit is ‘n volle vel hardbord, en is gemaak met bier en koeldrankdoppies.

Nou het hy weer so ‘n prent gemaak, hierdie keer met regte bottels. Daar is ongeveer 3100 bottels hier. En hierdie bottels is net so breekbaar soos ons arme pragtige renosters.

Posted in Los opdrifsels | Tagged , | 8 Kommentaar

Briefie aan ‘n Bloggie

Liewe Bloggie,

Ek verlang vannaand na jou. Ek het so uitgesien na ons twee se tydjie saam, en noudat ek hier by jou sit, is my hande lam, my brein suf en my wil min.

Ek het my voorgeneem om oor die fisiese ontwikkeling van die babatjie te skryf- het immers maande gelede al navorsing daaroor gedoen. Miskien is dit nou omdat dit al bietjie laat is, die tweelingetjie loop al amper, dat ek so traag is.

Hierdie afgelope weke het ek so hard gewerk soos nog nooit tevore nie, voel dit my, en noudat ek hier by jou kan sit, is ek te lam. Ag, Bloggie, wees asseblief maar geduldig met my. jy weet mos dat ek baie lief is vir jou.

Vandat jy in my lewe gekom het, het wêrelde oopgegaan, ek het dinge geleer waarvan ek niks geweet het nie, wonderlike nuwe blogvriende het my pad gekruis. In moeilike sowel as gelukkige tye is jy by my en jy verstaan altyd soo goed! Jy is regtig goed vir die siel!

Maar nou is dit baie laat en slaaptyd, dus groet ek eers tot anderdag. Ek stuur vir jou een van my gunsteling liedjies. Die woorde van die liedjie wil my altyd tranerig maak. Maar as ons nou die oorlog en goeie verlore vriende kan vergeet en net aan ons twee dink, dan is die woorde ook heel gepas.

Ek verlang na jou!

Liefde

Seegogga

| 14 Kommentaar

Ouma se bababoek brief 15 :’n Spesiale slaapliedjie

Liewe Kinders en alle mammas wat hier lees

Ek kry deesdae baie “searches” oor babaliedjies of oumaliedjies. Wel, soos julle eintlik al weet, HET ons so ‘n liedjie, ‘n baie spesiale liedjie, want dit ons familie se eie liedjie!

Dit het so gekom: Soos julle weet, is ons  familie mos super vrugbaar. So het my ouma en oupa niks minder as 12 kinders gehad nie! Die 11 wat grootgeword het, het ook almal hulle eie kinders gekry en nou is hulle kinders besig om weer kindertjies te kry. My eerste kleinkinders is sommer ‘n tweeling!

Maar nouja, met 12 kinders in die huis, was daar seker vir ‘n baie lang ruk altyd babatjies in die huis. Met julle ouma tweede oudste en Oom Henry net ‘n entjie jonger as sy, veronderstel ek dat hulle baie keer babatjies aan die slaap moes sing. En toe maak oom Henry hierdie liedjie.

Dis ‘n eenvoudige liedjie, gemaak deur ‘n laerskoolseuntjie,( of wie weet hou oud hy was- was hy al ooit in die skool?) - maar so treffend en lekker om te sing -wat is nou mooier en meer eie aan ons omgewing as ‘n klein babaskilpadjie?- maar bowenal: babatjies hou daarvan! Hulle raak sommer tjoef-tjaf salig aan die slaap met hierdie liedjie. Nou, ek weet nie of babatjies weet wat klein skilpadjies is nie, maar ek verseker julle die liedjie werk!

Dis dan seker ook hoekom die liedjie in die geheue van die familie bly voortleef het, en al die Falck kinders ( die 11 wat grootgeword het), dit weer vir hulle kinders gesing het. En hulle kinders het dit weer vir HULLE kinders gesing, en nou sing julle dit weer vir julle kinders ( en hierdie ouma vir haar tweeling kleinkinders!)

Ek self het eers die liedjie vir die eerste keer gehoor toe julle ouma vir jou aan die slaap gesus het, Leanie.Nee, dis nie waar nie, ek is mos self met hom aan die slaap gesus, maar ek kan dit mos nou nie onthou nie. ”Waar kom Ma nou aan daardie liedjie?” het ek verbaas gevra, want ek het gedog ek ken omtrent al die wiegeliedjies in Afrikaans. Toe vertel sy my die storie.

Die liedjie het dadelik my herinner aan ‘n dag, jare gelede, toe ek ‘n klein dogtertjie was. Ons het daar naby Robertson in die berg gaan uintjies ( ek is nie seker van die woord nie- dis sulke lang wit wortels wat onder die grond groei en baie lekker), soek, toe ons  ’n klein skilpadjie onder ‘n bossie sien sit.  Dit was die mooiste dingetjie en ek wou hom so graag hê. My nefie, Harry, het die skilpadjie vir my bo in sy hempsakkie ingesit. Soos die oggend aangegaan het, het hulle my vertel van die arme skilpadjie wat nou ongelukkig gaan wees, ens, en op die ou einde het ons hom weer gaan terugsit – onder ‘n bossie.

Sedertdien het ek gehoor hoe tannie Lydia dit sing en by navraag ken al die Falcke toe die liedjie.

Nou het ek die liedjie neergeskryf. Sover ek weet is die die heel eerte keer wat die liedjie op papier geskryf word – en dit het my die ganse nag geneem, omdat ek aanmekaar die een fout na die ander gemaak het, en omdat hierdie rekenaar vannaand sy eie willetjie het, nes ‘n stout kind. Maar hier is hy nou, min of meer net so, en as iemand wat hier lees dit vir sy babatjie wil sing, is hy welkom- saggies oor en oor, en vervang soms die woord mooie met kleine.

Nouja, dis middernag en ook slaaptyd hier!

Lekker slapies.

Mamma

KOPIEREG WAARSKUWING: Niemand mag hierdie musiek publiseer in ‘n boek, fotokopieer en versprei of kommersieel sing of opnames van maak sonder die skriftelike toestemming van Mnr Henry Falck of sy nageslag nie. Indien u dit ooit wil doen, kontak my deur middel van hierdie blog. Op las.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 12 Kommentaar

blogverslawing?

Wag ek loer net gou

het nie nou tyd nie

anders werk dag nie uit nie……..

‘n halfuur later -

ek lees nog sterk!

Herriemerrie,

Maankind,

Toortsie,

Olga,

Son

Ook ander waar ek baie uitkom.

TV het krag verloor

selfs Boek kom flouerig voor

dis nou Blogland vir my!

Wag- ek’t baie werk!

Kom nou, Krap! Wees sterk!

| 8 Kommentaar